UITREIKBEDIENING

Vernon Potgieter: 084 555 8801
Gert Roberts: 082 879 8883

Heidekoppie se Uitreikbediening fokus om kanale van diensbaarheid oop te maak vir lidmate om saam met ander op ‘n gefokusde wyse met hulle tyd, gawes, finansies, omgee, diens en versorging deel te wees van die gemeente se uitreik na die nood van die wêreld.
Dit bied ‘n geleentheid om saam te beleef hoe God se hart van liefde vloei na ’n wêreld in nood, om te behoort aan ’n gemeente wat omgee vir mekaar en ‘n wêreld in nood asook om saam met ander te bedien om so ’n verskil te maak aan die nood van die wêreld.
As gemeente is ons geroepe om gefokus besig te wees in ons samewerking met die volgende bedieninge:

PLAASLIK

Plaaslik geskied ons getuieniswerk buite ons gemeente hoofsaaklik deur Jesus-in-Aksie en Lasarus Sopkombuis en ons is ook betrokke by organisasies soos Badisa Trio.

Jesus in Aksie en Lasarus Sopkombuis

Jesus In Aksie (JIA) is ’n beweging wat gelowiges in die gemeenskap wil mobiliseer om gebrokenheid in ons gemeenskap in woord en daad aan te spreek. In die loop van die jare het dit gegroei tot ’n onafhanklike Maatskappy sonder winsbejag. JIA is sedert 2010 een van die kanale waardeur ons gemeente werk om die nood in die Brackenfell gemeenskap aan te spreek.
As vennote van JIA ondersteun ons hulle maandeliks finansieel ten opsigte van die bedrywighede rondom die Lasarusstoor en meer spesifiek die verspreiding van kosvoorrade en die Lasarus kerk op Sondae. Daar is ook deurlopende kontak en samewerking rondom die projekte van JIA in Brackenfell.
JIA bied verskeie geleenthede vir mense, jonk en oud, om deel te wees van die projekte met hulle tyd, gawes, bronne en finansies. Een voorbeeld hiervan is die kook van sop wat aan behoeftiges voorsien word. Van tyd tot tyd word daar ook spesiale projekte in die gemeente geloods bv. die borg van ’n JIA boksie tydens die JIA uitreik week in Oktober elke jaar.

Badisa Trio

Badisa is die voertuig deur wie die NG en VG kerk se barmhartigheidsdienste werk. Badisa Trio is Kinderbeskermingseenhede in Durbanville, Bellville, Brackenfell, Kraaifontein en Scotsdene.

INTERNASIONAAL

Vernon Potgieter: 084 555 8801
Gert Roberts: 082 879 8883

Internasionaal is Heidekoppie betrokke in die DRC, Thailand en Madagaskar.

Jy kan betrokke raak deur finansiële ondersteuning of deur gebed.

Madagaskar

Nic en Tina Strydom is sedert 2000 in Madagaskar met die roeping om die onbereikte bevolkingsgroepe van Madagaskar te bereik met die Evangelie van Jesus Christus.
Aanvanklik konsentreer hulle op die Sakalava bevolkingsgroep in die Menabe streek, waar hulle tot 2015 werksaam was. In hierdie tyd is verskeie medewerkers opgelei, kerke geplant en gemeenskappe bedien met die Evangelie en mediese hulp deur middel van die “Mercy Ship”. Die “Mercy Ship” is eiehandig gebou spesiaal vir dienswerk op die Tsiribihinarivier. In 2014 reeds het die Here ander onbereikte volke groepe in die Suide van Madagaskar op hulle hart gelê waarna hulle fokus verskuif na die Mikea bevolkingsgroep wat Noord van Tulear in die woud woon. Dit het tot gevolg dat daar weer van vooraf geïntegreer moes word, medewerkers gesoek en opgelei moes word, nuwe dialekte geleer moes word ens.
In 2017 het hulle reeds ongeveer 30 nuut opgeleide sendelinge in die Tulear streek uitgestuur. In 2018 word 16 sendelinge in die Fort Dauphin streek ontplooi met die Mananjary, Farafangana, Morombe, Morondava en Ihosy streke wat volg. In Januarie 2022 is die span 72 sterk en is oor die hele suide van Madagaskar ontplooi en werk onder 14 onbereikte bevolkingsgroepe. Tans bedryf hulle 529 nuut geplante kerke. 34 Nuwe kerke is reeds oorgegee aan voltydse pastore en is aktief in gemeenskappe. Daar is ook 597 aspirant sendelinge onder opleiding.
In 2016 begin Nic en Tina ‘n Christen radiostasie in Tulear, wat daagliks vir sewe dae van die week vanaf 05:00 tot 23:00 uitsaai. Die uitsending, met ‘n 80km radius, verkondig die Evangelie en speel geestelike musiek en opvoedkundige programme ter opheffing van die gemeenskap. “Radio Vonjy Laharano Velona” (Die radiostasie met ‘n ewige fontein van reddende water) gaan steeds van krag tot krag.
Hulle is tans besig met die oprigting van ‘n “Retreat Centre” in die dorpie Belo Sur Tsribihina. Die doel daarvan is om pastorale sorg te verskaf aan die sending- en kerkgemeenskappe van Madagaskar. Verskeie ondersteuningsprogramme sal hier vir die sendelinge aangebied word. Ons gemeente ondersteun Nic en Tina verskeie jare al in hulle bediening onder die onbereikte groepe in Madagaskar.

Thailand

Danie en Marina bly en werk al langer as 30 jaar in Pattaya, Thailand en praat die Thai taal vlot.  Hul bediening is ’n kruis-kulturele bediening en vind plaas binne die Boeddhistiese konteks van die land wat baie nou met die kultuur van die mense en die van die land vervleg is. Danie het ‘n aaneenlopende “retirement visa” bekom wat hulle verblyfreg in Thailand gee omdat hulle al so lank in die land woonagtig is.

Hulle bediening behels:

  • Voltydse pastor van die Pattaya International Church (PIC). Lidmate van die gemeente is meestal buitelanders wat werk in Thailand. Die kerk is van kardinale belang in al hulle werksaamhede in Thailand. Hulle het nou skakeling met die Thai Presbiteriaanse. Danie mobiliseer die gemeente voortdurend om binne die Thai-konteks betrokke te wees. Marina is Sondae verantwoordelik vir die Sondagskool. PIC ondersteun die bedieningsprojekte van Danie en Marina d.m.v. finansies en ander maniere.
  • Ondersteuning van die plaaslike Thai Presbiteriaanse kerk. Danie en Marina ondersteun die plaaslike Thai kerk, Bybelstudie groepe, eredienste en ander.
  • Sondagskoolboeke projek. Daar is ‘n groot behoefte aan Sondagskoolmateriaal vir kinders in Thailand. Marina het reeds twee Sondagskoolboeke in Thai ontwikkel. Dit word op verskeie plekke in Thailand gratis versprei binne die Thai kerke.
  • Mentor-pastor van die kerk op die eiland Kohsichaang. Dit is ‘n kerk wat hulle geplant het op ‘n eiland sowat 7 km van Pattaya af. Dit is die enigste kerk op die eiland en bestaan uit nuwe bekeerlinge vanuit Boeddhisme. Die kerk het baie aandag en versorging nodig. Marina werk hier op ‘n gereelde basis met die kinders. D.m.v. die kinders word die ouers ook bereik. Die leier van die kerk daar is Nataniël en hy bedien onder die mentorskap van Danie. PIC dra die koste verbonde aan die bediening op die eiland.
  • Engelse onderwyser by Boeddhistiese skool vir twee dae van die week. Danie gee twee dae per week vrywillige Engelse klasse by ‘n staatskool. Dit is ook ‘n geleentheid om die liefde van Jesus uit te leef na die kinders. Marina gee maandeliks ’n “craft-lessson” by dieselfde skool vir so ongeveer 40 kinders. Deur die lesse bring sy ook Bybelse waarhede en waardes na vore.
  • Engelse klasse vir volwassenes van Thai-kerk. Hierdie is alles geleenthede waarin hulle kan kontak maak met die Thai mense.

Danie en Marina se seun, Daniel Jr., het vanaf 6 maande grootgeword en skoolgegaan in Thailand. Hy het verder in maatskaplike werk studeer in Thailand en Australië. Hy beklee tans, op spesiale uitnodiging van die Australiese regering, ’n voltydse pos as maatskaplike werker in Australië en het in 2024 sy permanente werkspermit gekry.

Ons gemeente ondersteun vir Danie en Marina verskeie jare al in hulle roeping en bediening om sendelinge na die Thai-nasie te wees.

Crisis Response Network
(CNR)

CRN is 'n christelike NRO wat 'n netwerk van vennote voor, tydens en na 'n wêreldkrisis koördineer om sodoende deernisvolle en volhoubare bystand te implementeer. Hulle poog om die lyding van slagofffers tydens krisisse te verlig.
Heidekoppie se kontakpersoon met hulle is Yolande Korkie.